i.6. Andries Adriaan VAN DER WESTHUIZEN, geb. 22/06/1899, ged. 26/07/1899

i.6.  Andries Adriaan, geb. 22/06/1899, ged. 26/07/1899, Prieska, oorl. 03/02/1985, Neilersdrif x 22/06/1925, Upington, dist. Gordonia met Hester Cornelia LAUFS, geb. 11/02/1907, oorl. 03/05/1994, Keimoes, begr. Neilersdrift . d.v. Daniel Mathews Laufs en Gertruida Catharina Jooste.

Andries Adriaan was die seun van Jacobus Hendrik van der Westhuizen en Hendrika Christina Wilhelmina Loots.

Sy naam kom voor in hulle pa se sterfkennis van 1911.

Andries Adriaan van der Westhuizen is op 22 Junie 1899 op Prieska gebore.  Hy het op 12 jarige ouderdom saam met sy ouers na Kakamas verhuis.  Andries het op hierdie jeugdige ouderdom "swaarkry" leer ken.  Sy pa, Jacobus Hendrik, is in 1911 oorlede toe hy nog op skool was en reeds toe al moes hy van die huislike verpligtinge op sy skouers neem.  Hy het na skool as arbeider help grawe aan die Noordvoor op Kakamas, ten spyte van die baie fel Noordwesterse son, wind en reën.

Nadat hy St. 7 klaargemaak het, het hy as Kwekeling onderwyser “Pupil Teacher” vir 9 maande gaan skoolhou.  Dit was die gebruik in daardie jare voordat ‘n persoon na ‘n kollege sou gaan vir verdere studie.  Hy het egter nie verder gaan leer nie, maar het ‘n bestaan op ander maniere probeer maak, sodat hy sy broers en susters kon help om verder te studeer.  Op hierdie manier kon hy sy familie versorg en ook meegehelp dat twee van sy broers hulle as volwaardige onderwysers kon kwalifiseer.


 Andries en sy leerlinge

Die jaar 1915 was ‘n voorspoedige jaar, 1916 was ‘n droogtejaar en 1917 ‘n jaar van oorstromings, roes en maagkoors.  Ds. Shaw en sy vrou het die Kakamas koloniste bemoedig met die nodige simpatie  en bemoediging uit die Bybel.  In die terugslag het net twee mans gesterf.  Na die tyd was daar nog drie sterfgevalle en ‘n sestal maagkoorspasiënte.  Ook was daar gevalle van malaria.  Van die oes op die lande was daar geen sprake nie.  ‘n Week na die vloed is daar met algemene herstel en opbouwerk begin.

Andries het allerhande soorte werke gedoen, voordat hy as landbouer op Kakamas kommissiegrond in die hande kon kry.  Hy het 'n inkomste begin verdien deur die rondry en invorder van hondebelastings (hondebordjies).  Die fiets waarmee hy gery het, se naam was ou Rooi Indiaan.  Wanneer van die mense nie vir die hondebelasting kon betaal nie, het hulle vir hom diere as vergoeding gegee.  'n Skaap vir 'n hond se belasting.  Op hierdie manier het hy baie skape in die hande gekry.  Hy het ook transport gery.  Foto:  uit sy transport ry dae.

Die getuigskrif uit 1921 beskryf hom as as ‘n eerlike, voorbeeldige, hardwerkende en energieke jongman met sobere waardes.  Hierdie getuigskrif het hy waarskynlik gekry om te kon kwalifiseer vir kommissiegrond.

 Getuigskrif vir Andries van der Westhuizen - 1921

In 1923 is die bouwerk aan die smalspoor spoorlyn tussen Kakamas en Upington begin.  Vir die projek is slegs van Blanke arbeid gebruik.  Die bou van die spoorlyn het aan die nabyliggende boere en erfhouers geleentheid gebied om hul produkte aan die werkers te verkoop.  Die smalspoortrein tussen Upington en Kakamas se eerste lokomotief was “Die Koffiepot” genoem.  ‘n Latere een was “Ou Kaalvoet” genoem.

Kola, Andries en Izak by die bou van die brug op Kakamas

Die brug oor die rivier was meerdoelig. Voertuie het wydsbeen oor die treinspoor beweeg as die trein nie in aantog was nie.  In die middel van die brug is daar ‘n verbreding waar die verkeer vir mekaar kon uitswenk.  Ook was daar ‘n ander gebruik vir die brug.  Die N.G. Kerk was nie ten gunste van dans nie.  Mense wat graag wou dans het gou die potensiaal van die brug as dansplek raakgesien.  ‘n Opwenmodel platespeler, of ‘n trekklavier is gebruik om musiek te verskaf.  Na donker is daar na die brug toe gegaan.  Twee wagte is aan elke punt van die brug geplaas net vir ingeval ‘n ouderling die name van die skuldiges neerskryf om aan die kerkraad voor te hou.  Andries en Hetta het graag gedans.  Die pond by Kakamasdrift se gebruik is in 1926 gestaak met die ingebruikneming van die smalspoortreintjie en spoorbrug oor die rivier.  Andries het vertel dat hy die Oranjerivier baiekeer deurgeswem het om ‘n sikspens te spaar, want die skuit het ‘n sikspens gekos om mens oor die rivier te neem.

Op 18 Augustus 1926 is die smal treinspoor vanaf Upington, oor Keimoes na Kakamas, amptelik geopen.  Die opening van die spoorweg was ‘n keerpunt in die lewens van Kakamas se mense.  Dit het lewe, handel en voordele gebring.  Die mense het nuwe moed en ondernemingsgees gekry, omdat hulle nou ook die produkte wat hulle vroeër as gevolg van die afstand en die hoë vervoerkoste nie kon verkoop nie, in geld kon omsit.  Dit het ‘n omwenteling in die vervoerstelsel van die omgewing tot gevolg gehad.

Skaars was die vloedskade van 1920 oorbrug of die vloed van 20 Maart 1925 het die Kakamas koloniste getref.  Hierdie oorstromings was angswekkend en verwoestend.  Vyf  dae later was 150 erwe oorstroom.  Die pont tussen Marchand en Paardeneiland het gebreek en is met groot moeite herstel net om weer te breek.  Weinig skuite het oorgebly om die mense oor die rivier te vervoer.  Vrouens en kinders het magteloos en radeloos met kosbare besittings en beddegoed by die aankompunte van die skuite gestaan.  Die skuite is gebruik om die erfhouers van die erwe af te gaan haal.  Steeds het die water gestyg tot dit myle buite die oewers van die Oranjerivier strek.  So dan en wan kon die dreuning van vallende huise bo die gedruis van die vloedwaters gehoor word.  Uiteindelik was die vloedwaters aan die afneem.  Die verwoesting wat gesaai is, kon eers gepeil word met die wegtrek van die water.  Opgeslikte lande het slegs die mieliekoppe blootgestel.  Slote en gate is oopgespoel, terwyl wingerde en vrugteboorde  verwoes was.  Paaie en pyplyne is weggespoel.  Die erfhouers was diep verslae oor die geweldige verlies met bykomende terugslae.  Sowat 80 gesinne was dakloos gelaat.  In hierdie vloedramp het slegs een blanke en kleurling gesterf.  Maagkoors wat na ongeveer drie weke uitgebreek het, het tot meer sterfgevalle gelei.

Op 22/06/1925, Kakamas trou Andries (26 jr) met Hester Cornelia (Hetta) Laufs (18 jr).  Hy het vir haar tydens sy transportryery ontmoet.   Hetta was aanvanklik Andries se broer, Piet, se meisie.  Andries het egter Piet se pale gelig (vat haar af), al was Piet baie verlief op Hetta.  Andries het met deernis vertel dat Hetta baie mooi was en dat sy vir hom soos ‘n klein voëltjie met groot oë gelyk het.  Andries se lieflingnaam vir Hetta was “Meide”.  Andersins het hy haar “vrou” of “Hester” genoem.  Hulle is aanvanklik in die landdroskantoor getroud, aangesien daar nie ‘n predikant beskikbaar was om hulle in die huwelik te bevestig nie.

Andries en Hester se troue


Op Kakamas moes hulle egter weer voor Ds. Shaw trou, aangesien hy geweier het om andersinds hulle kinders te doop.  Hierdie seremonie het plaasgevind in gewone werksklere.

Wa- en karbordjie-inspekteur in die Kalahari, was 'n werk wat Andries oor baie dagreise heen met 'n kapkar en vier donkies onderneem het.  Hy het ook fietsbordjies en motorfietsbordjies verkoop.  Die bordjies het vyf sjielings gekos.  Soms het die mense nie geld gehad om mee te betaal nie, dan het hy slaggoed in plaas van geld van die mense ontvang.  Hierdie slaggoed het hy dan weer verkoop om die bordjies se geld te in.  Eendag het hy besef dat hy met ‘n slaghuis vir hulle ‘n beter lewe sou kon maak.


In Schroder het Andries die slaghuis begin en Hetta het daarin gewerk.  Hier het hulle vleis vir een sjieling en ‘n sikspens per pond verkoop.  Omdat hulle huis regoor die kleurlinggebied was, het die slaghuis aan die gang gebly.  Dit was hier waar Hetta vir die eerste keer haar verloofring verloor het.  Die ring was haar kosbaarste aardse besitting.  Sy het dit per ongeluk in ‘n pakkie vleis toegedraai.  Gelukkig het sy dit dadelik agtergekom en die man teruggeroep.  Toe hulle die pakkie oopmaak, het hulle die ring gekry.  Sy het vir die man ’n vergoeding gegee.

Andries het vir hom op Schroder al ‘n dorsbak aangeskaf, waarmee hy koring vir ander boere in die omgewing gedors het.

Die ou dorsbak op Schroder

Dit was jare waarin geld skaars was.  Lenie Hechter, Andries halfsuster, het  dikwels pakke klere vir Hetta se kinders gestuur.  Hetta het dan die klere verwerk, sodat dit nie presies gelyk het soos dit wat sy ontvang het nie.  Op daardie stadium was nog net Gerrie en Hennie gebore.

Gelukkig was geld baie werd in daardie tyd.  Hester en Andries het eenkeer Upington toe gery met ‘n 5 pond noot.  Toe hulle terugkom was daar ‘n groot doos op die wa, wat gordynmateriaal, kleremateriaal, kos vir ‘n maand, Huyshamenskoene, presente vir van die kinders wat binnekort sou verjaar en nog ‘n hele paar ander items, bevat het.  Die gordynmateriaal het ‘n tiekkie ‘n jaart gekos.  Die kinders se rokkies het uitgewerk op twee en ‘n sikspens (of 25c).  Andries en Hetta het ‘n kar en esels gehad waarmee hulle Upington toe gery het om hulle inkopies te doen.  Die kinders is by Gerrie, Hetta se suster gelos (wat aan Keimoes se kant van Upington gewoon het), terwyl die twee van hulle dorp toe is.  In die aand het die hele familie daar oorgeslaap, voordat die terugtog baie vroeg die volgende more gevat is Kakamas toe.  

Die voertuie in daardie dae was oor die algemeen die ossewa of die donkiewa.  Alle produkte en ook al die voorrade van die winkels moes per donkiewa vanaf Lutzputs vervoer word.  Passasiers en posstukke is een maal per week of veertien dae oor grondpaaie (want teerstrate het toe nog nie bestaan nie) van Lutzputs per perde kapkar vervoer.  Daar was selfs nog nie teerstrate vanaf Upington na Kaapstad toe nie.

Teen ongeveer 1932 het Hetta se ouers, Daniel en Truia Laufs, in Suidwes Afrika, naby die dorpie Maltehohe, as bywoners gaan woon.  Met wintertyd het Truia altyd ‘n prafienkas vol skaapvleis winddroog gemaak en gespesery, waarna sy dit dan vir Hetta gestuur het. Daar was nie yskaste nie en die vleis is gedroog, gekook en ook as biltong geëet.  Sodoende kon hulle van die vleis tot aan die einde van winter eet, indien dit goed sou hou.  Op hierdie stadium was nog net drie van Andries en Hetta se kinders naamlik  Gerrie, Hennie en Hansie gebore.  Na Daniel se dood, het Truia nog vir ‘n hele paar jaar lank in Suidwes Afrika aangebly, terwyl sy hulle boerderybedrywighede daar behartig het.  Hierna het sy met van haar ander kinders, te wete: Grieta, Sophie en Annie by Andries en Hetta gaan woon in hulle huis. 

In 1934 was daar weer ‘n vloed.  Dit kan as ‘n jaar van nood en rampe beskryf word.  Kola  het vir Andries gehelp om die stukkie AKK landbougrond wat Andries op Kakamas gehad het, te bewerk.  Kola, het 'n winkel op Cilliers gehad.  Die stukkie grond is gedurende die droogte natgepomp en Kola het die stroop uit sy winkel voorsien om te verhoed dat die bande van die pomp gly.  Net toe die oes waatlemoene gereed op die land gelê het, het die vloed gekom en die hele oes met die rivier afgespoel.


Op Kakamas het die familie graag piekniek gehou.  Die broers was baie familievas en Andries, Piet en Izak het graag saamgekuier.  Die piekniek is dikwels by ‘n sandduin naby Andries se huis gehou.  Om daar te kom het die familie deur die kleurlinggebied met wa en diere gery.  Net die piekniekware was op die wa.  Die kinders het langs die wa gehardloop.  By die piekniekplek het die kinders mekaar se hare met sand “gewas” en mekaar met waatlemoen gesmeer.

Daardie jare het die mense met Kersfees en Nuwejaar, sommer ‘n groot piekniek gereël en almal wat wou meedoen, het hulle wa gelaai met vrou, kinders, kos en sommer soveel vriende as wat wou saamgaan.  Die wakis is voor die tyd vol koekies gebak.  Dan het almal vertrek na die naaste duine of na een of ander lekker eiland in die rivier.

Braaivleis was dan aan die orde van die dag, en speletjies is dan hier gespeel.  As daar ‘n orkes of traporreltjie beskikbaar was, het hulle sommer daar gedans.  Hetta was dikwels die orellis.  Toutrek was ook ‘n gewilde speletjie.

Mense van oor die hele kontrei het na die byeenkomstes gekom.  Sommiges te perd, ander met perde en donkiekarre, want motorvoertuie was daar nie.  Andries se broer Piet het vertel dat hy al in st 5 was, toe die eerste motor sy verskyning in hulle omgewing gemaak het.  Dit was die 1914 model Trap Ford.  Andries se broer Kola was die eerste van die van der Westhuizen broers, wat vir hom ‘n motor aangeskaf het.  Dit was ‘n model T Ford.  Andries het later ook vir hom ‘n bakkie gekoop en nog later ‘n vragmotor, waarmee hy sy werksmense vervoer het.

Die van der Westhuizens het ook graag op Drifweiland gaan visvang.  Andries se broers Izak en Piet met hulle gesinne het dan na Andries se huis gekom, voordat almal saam rivier toe is.

Andries het 'n leidende rol in die destydse Jongeliedevereniging van Kakamas gespeel, hy het self al die opvoerings geskryf en saam met sy vrou as die "sterre" opgetree.  Hierdie toneelstukke was gewoonlik op Saterdae opgevoer.  Ander geleenthede waarvoor konserte gehou is, was byvoorbeeld vir die Strewersvereniging, of vir liefdadigheid.  Kostuums wat benodig was vir hierdie geleenthede is deur die mense self gemaak.  Tydens een van hierdie vertonings moes Hetta se ring afgehaal en weer aangesit word.  Iemand het die ring gevat.  Die ring is weer gekry vir ‘n tweede keer.



Gerrie, Marie le Grange en Hennie met ‘n toneelopvoering

Debadsverenigings is byna elke veertien dae gehou.  Iemand was vir die joernaal verantwoordelik.  Hierin is alles opgeteken, wat snaaks was en wat lede van die vereniging oorgekom het, tot vermaak van almal.  Snaakse redenasies is met die debatte gehoor en almal het hierdie aande terdeë geniet.

Hetta se ring het vir ‘n derde maal op Schroder weggeraak en dit was in die beeskraal waar Hetta besig was om te melk.  Een van die skaaplammers was baie lastig by die melkery en Hetta het hom weggestamp van die melk af.  Die ring het van haar vinger afgeglip en in die mis van die kraal beland.  Hulle kon nie die ring kry nie.  Later is die kraalmis in die wingerde ingery.  Baie lank nadat die ring verloor is en nadat sy moed opgegee het om dit ooit weer te kry, het een van hulle bure al op die afkere in die landerye afgestap en die ring daar opgetel.  Dit was  Mimmie Olivier wat graag by hulle gekuier het.   Mimmie was krom en het vooroor geloop en so het sy die ring op die afkeerwal sien lê.  Sy het na Hetta toe gestap en vir haar gesê:  “as jy vir my kan sê wat ek hier het, kan jy dit kry.”  Hetta was baie bly om haar ring terug te kry.  Sy het altyd gesê “haar hart het gespring”, want sy het so gehoop dat dit haar ring was.

Andries het ‘n klompie vee op sy erf aangehou.  Hy het vir hom ‘n Kakakoelboerdery begin deur vir hom ‘n karakoelram en ooi uit Suidwes-Afrika uit in te smokkel.  Hy het vertel dat hy dit gedoen het, deur met ‘n bakkie na Suidwes-Afrika te ry en die bakkie daar vir ‘n sedanmotor te verruil.  Die karakoelram en ooi het elkeen ‘n kappie gekry en hulle het die grenspos in die middel van die nag oorgesteek.  Hy is nie gevang nie.  Die grond waarop hulle gewoon het, was te klein vir ‘n veeboerdery en Andries en Hetta het getrek na Neus se berg toe, waar hy grond gehuur het van ‘n Van der Merwe.  Die kinders, Gerrie,  Hennie en Hansie het eers tot die einde van die skooljaar, by mense op Schroder wat naby die skool gewoon het, agtergebly en het net vakansietye na hulle ouers toe gegaan.  Na die einde van die skooljaar is die kinders Neilersdrift toe gestuur, waar hulle by Andries se broer Kola gewoon het tydens die skoolkwartale.  Op hierdie stadium het Kola ‘n soort losieshuis en ‘n winkel saam met ‘n vriend en kollega Willie Zaaiman bedryf.  Die onderwysers van die skool het in hulle losieshuis loseer en die winkel het bekend gestaan as “Van der Westhuizen en Zaaiman”.

Andries en Hetta het in die laat dertigerjare van die 20ste eeu Neilersdrift toe getrek.  Van Neus af het Andries met sy boerdery getrek na die plaas Brakfontein, wat behoort het aan Daniel Strauss.  Hy het die grond van hom gehuur.  Hy het in Neilersdrift vir sy gesin ‘n huis, ‘n koringmeule en ‘n slaghuis aangeskaf en later dorsmasjiene aangekoop, waarmee hy koring gedors het.  Hier het hulle vir byna 'n halwe eeu die lief en leed van die gemeenskap gedeel en saam met die dorp gegroei.

Andries het oor 'n skat van herinneringe uit vervloë dae beskik en was ook 'n bobaas storieverteller.  Hy het ook vas geglo dat hy met die helm gebore was.  Hy kon dus voorbodes sien.  Die eerste bonatuurlike verskynsel wat hy teëgekom het, was sommer vroeg in sy lewe.  As kind, het hy 'n baba vreeslik hoor huil, terwyl daar geen mense in die omtrek was nie.  Toe hy navraag daaroor gaan doen het, het die eienaar van die plaas vir hom vertel, dat dit die gehuil van 'n baba was, wat in die Boereoorlog deur die Engelse gedood is.  Die eienaar het tot vir hom die graffie gaan wys.

As jongman, het hy een aand saam met sy maats gaan stap.   Hy het 'n jong meisie met wie hy bevriend was, in die halfskemer sien stap.  Sy maats kon haar egter nie sien nie.  'n Paar dae later is dieselfde meisie oorlede.

Een aand was hy en Millie Brand op pad huis toe, nadat hy haar gaan haal het om by hulle te kom kuier.  Skielik het hy botstil gaan staan, omdat hy 'n lykstoet sien verbygaan het.  Millie het dit nie gesien nie.  Die volgende dag is vriende van hulle se baba oorlede.  Millie het hierdie storie beaam.

Ook het hy een aand gedroom dat 'n ou huishulp, wat by hulle oorlede was, aan hom verskyn het en gesê het dat haar ou man die volgende sou wees om te sterwe te kom.  Ook het sy gesê dat hy, wat Andries is, op die 16de Desember sou sterf.  Van daardie dag af, het Andries nooit êrens heen gegaan of enige harde werk gedoen op Geloftedag nie.  Veral nie nadat die ou kleurlingman kort daarna oorlede is nie.

'n Voorbode wat as streng waarheid geglo is, is die van die naguil op die huis se dak.  As hy sit en koe-hoe skree, dan sterf daar binnekort iemand in daardie gesin.

As 'n koppie, bord of glas stukkend val, dan moet twee ander oues stukkend gegooi word, want daar breek altyd drie.

Bygelowe was natuurlik vollop.  In vloedtye het die diere wat op die Oranjerivier se walle gewei het, verdrink nadat hulle deur die vloedwaters meegevoer is.  Die mense het geglo dat as die riviervoël saans met die Oranje afgevlieg het en geskreeu het, sou die rivier in vloed afkom.  So is die diere dan betyds na veiligheid gebring.  Ongelukkig het die groot waterslang, met die blink steen voor sy kop, ook saam met die rivier in tye van vloed gekom.  Swem was dan taboe vir die kinders, want die slang sou hulle met sy magnetiese krag die water intrek.

Broer Kola, se seun Boet, het ook aan voorbodes geglo.  Daar word vertel dat Boet in 1954 een aand sy baba Jacobus hoor huil het.  Toe hy in die kind se kamer kom, het die baba na iets gewys.  Daar sien Boet toe ‘n vrou met ‘n kind op haar arms staan, wat nie werklik was nie.  Die volgende dag het hulle ‘n telegram gekry dat Andries se dogter, Hannetjie oorlede is.  Hannetjie het ‘n lekhart of rumatiekhart gehad as gevolg van behandeling wat sy gekry het vir epilepsie.  (Vir haar vallery met die epilepsie het Hetta vir haar ‘n dik kappie gemaak.)  Sy het water en rumatiekkoors gekry.  Almal het gedink dat dit met haar beter gegaan het, omdat sy gewig aangesit het.  Dit was egter die water wat opgestoot het na haar hart.  Haar hart kon dit nie hanteer nie.

 Andries, Hester en Danie met Hannatjie se begrafnis

In die vyftigerjare het Andries met die ontwikkeling van die soutpan op die plaas Norkei in die Kalahari (in die rigting van die Gemsbokpark) begin.  Hy het dit in 'n betalende besigheid omskep, dit verkoop en begin myn.

Andries se soutpan

Andries was seker een van die weinige ou myners van die Noordweste.  By Komsberg het hy wolfram ontgin, in Kenhardtdistrik veldspat en beril, maar die "blinkklippies" (diamante) waarna Andries maar altyd by Augrabies gesoek het, het weggebly.


Die volgende artikel het op 10 Maart 1970 verskyn:

RYK RIF VERMOED; KOPERKOORS IS HOOG IN NOORDWESTE.

Die koperkoors loop nou hoog in die Noordweste, waar Anglo Vaal hard besig is met die voorbereidsels vir die ontginning van neerslae by Vogelstruisbult in die distrik Prieska.  In die suide van Suidwes word daar ook druk na koper geprospekteer.  Twee diamantbore is nou besig met die maak van prospekteergate op die plaas Edenville van mnr. K.Visser nadat lugdrukbore reeds verskeie ondersoekgate daar geboor het  Daar heers egter groot geheimhouding en almal wat met die werk gemoeid is, het opdrag gekry om geen inligtinge te verstrek nie  Die bestaan van 'n ryk koperrif met so 'n bietjie goud daarby van Prieska onder die Oranje deur in die rigting van Suidwes word vermoed.

GEHEIM BEWAAR.

Een man wat bereid is om sy kop op 'n blok te sit, dat die rif wel daar is, is mnr. P. van der Westhuizen, tans onderwyser wat die geheim sorgvuldig bewaar het.  Mnr. van der Westhuizen en sy broer, die sewentigjarige mnr. A.A. van der Westhuizen het omstreeks 1926 heeltyds ons verskillende minerale geprospekteer en het byvoorbeeld 900 kg (18 ton) berillum op een dag aan 'n Johannesburgse maatskappy Afraps gelewer.  In 1954 het die twee broers in 'n puts naby Keimoes toevallig op ryk kopererts afgekom en dit dadelik na Afraps gestuur.  Die monster het benewens 24 persent koper ook 'n bietjie goud bevat.  Die destydse maatskappy het aangebied om 'n kontrak vir die ontginning van die koper aan te gaan.  Die firma sou al die nodige toerusting verskaf;  die broers moes net die nodige verlof vir ontginning vir 'n tydperk van tien jaar van die eienares verkry.  Op daardie tydstip was hulle net bewus van die bestaan van die koper op een plasie en die eienares, 'n weduwee, wou om godsdienstige redes nie saamwerk nie.  Na hierdie vrugtelogse poging het mnr. A.A. van der Westhuizen hom op die ontginning van ander minerale toegelê en sy broer het weer tot die onderwys toegetree.  Die betrokke weduwee is sedertdien oorlede, maar die ontginning is daar gelaat.  Hoewel baie mense van die bestaan van die koper bewus is, is dit egter bekend dat die rif oor 5 of 6 mense se gronde strek.  Die breedte van sowat 16 km elk gevat. sowat 9 m (3 vt).  Die dikte van die lae nog nie bepaal nie.  Die minerale wat die broers Van der Westhuizen destyds ontgin het, het asbes, berillium, wolfram, veldspaat, topaas en selfs uraan ingesluit.  Nadat mnr P. van der Westhuizen destyds sy onbekende erts (uraan) vir ontleding na die staatsgeoloë gestuur het, is iemand dadelik uit Pretoria met instrumente gestuur om die betrokke plekke en hoeveelhede vas te stel.  Sederdien is op verdere neerslae uraanerts afgekom."


Op 22 Junie 1975 het Andries en Hetta hulle goue bruilof gevier.  Daar was spesiaal fees gevier en die familie het saamgetrek by hulle huis vir die groot geleentheid.

 ‘n Servet wat spesiaal laat druk is vir die 50 jarige huweliksherdenking van Andries en Hetta 

Op 72 jaar het Andries sy kleurryke werke laat vaar en afgetree en is hy na 'n lang siekbed op 3 Februarie 1985 aan kanker oorlede.  Hy was een van die baanbrekers van die Noordweste.


Die Gemsbok

eGGSA library Gravestones in South Africa Northern Cape : Noordkaap Northern Cape, GORDONIA district, Rural (farm cemeteries) Northern Cape, GORDONIA district, Neilersdrif, cemetery_1 WESTHUIZEN Andries Adriaan, van der 1899-1985]

eGGSA library Gravestones in South Africa Northern Cape : Noordkaap Northern Cape, GORDONIA district, Rural (farm cemeteries) Northern Cape, GORDONIA district, Neilersdrif, cemetery_1 WESTHUIZEN Hester Cornelia, van der 1907-1994