Geskiedkundige agtergrond

In die loop van die 17de en 18de eeu het daar 'n ononderbroke stroom Duitse immigrante in die Kaap aangekom, sodat daar teen die einde van die 18de eeu tussen 1,400 en 1,500 Duitsers in die land was.  Uitenhage beklee 'n besondere plek in die geskiedenis van die Oos-Kaap. Hierdie grensdorp is die oudste dorp in die provinsie.   (http://m24arg02.naspers.com/argief/berigte/dieburger/2003/10/31/OB/9k/01.html)  Die dorp Uitenhage het sy ontstaan gehad na aanleiding van vryburgers wat hulle hier kom vestig het. Met ’n geskiedenis van ontbering en met ‘n hoop op ‘n beter toekoms voor hulle, het verskeie vryburgers al verder vanaf Kaapstad die Oos-Grens verken. Alhoewel ander voor hulle reeds die uithoeke verken het, was dit 4 vryburgers, waarvan Gert Scheepers die bekendste was, wat die binneland in 1790 verder verken het en ‘n toekomstige blyplek hier vir hulle gesinne kon visualiseer. Die aanhaling uit een van die geskiedenisboeke oor Uitenhage som dit mooi op: “They patiently cut their way through the bush, and at length found themselves on the summit of Red Hill. The scene that opened out before the spectator as he stands upon the rise is one of placid beauty, and one can easily imagine how the eyes of the travellers glistened when it suddenly bursted upon their view. The sparkling river, unpolluted in those days by the woolwasheries which were destined to be erected on its western banks, was carefully explored for miles in either direction, and the valley was discovered to be fertile, and possessed of great possibilities both for stock and cereal.” Die vryburgers het besluit om toestemming by Goewerneur Van der Graaff te kry om hulle permanent in die gebied te vestig. Voor hulle teruggekeer het Kaap toe het hulle elkeen vir hulle ‘n deel uitgemerk waarop hulle wou kom vestig. Die gedeelte wat deur Gert Scheepers uitgemerk is, sou die stuk aarde word waarop Uitenhage sy ontstaan sou vind. (http://goandproclaim.co.za/downloads/file/pdf/gemeenskapsanalise_feb_2009.pdf)

Na die Vrede van Amiens op 28 Maart 1802 kry kommissaris-generaal Jacob Abraham Uitenhage de Mist, lid van die Asiatiese Raad, opdrag om die Kaap van die Engelse oor te neem en die bestuur en administrasie te reël. Jan Willem Janssens word in 1803 goewerneur van die Kaap en die Politieke Raad en die Raad van Justisie word heringestel. De Mist stig die distrikte van Uitenhage (uit dele van Graaff-Reinet en Swellendam) en Tulbagh (uit die noordelike deel van Stellenbosch). (http://m24arg02.naspers.com/argief/ berigte/dieburger/2003/10/31/OB/ 9k/01.html)  Dit was eers in 1805 dat Uitenhage amptelik geproklameer is. Die dorp is vernoem na Jacob Abraham Uitenhage De Mist, wat op daardie stadium Kommissaris-Generaal van die Betaafse Republiek aan die Kaap was. Hoekom die dorp na hom vernoem was, is nie baie duidelik opgeteken nie. Hy het nooit in die distrik gebly nie en het slegs ‘n eenmalige besoek aan die streek gebring.  Kort na die stigting van die dorp in 1805 is die eerste Drosdy gevestig, die 7e in die regsgebied van die Betaafse Republiek na Graaff Reinet. Dit het die setel geword van die reg en geregtigheid vir die afsienbare toekoms waarvan die grense gestrek het tot teen die Sondagsrivier en later veel verder na aanleiding van die vestiging van nuwe Veldkornette, onderafdelings van die plaaslike Drosdy.  (http://goandproclaim.co.za/downloads/file/pdf/gemeenskapsanalise _feb_2009.pdf).

Kapt. J.C.L. Alberti, Duits van geboorte, is as die eerste landdros van Uitenhage aangestel. Hy was in daardie stadium ook die kommandeur van die garnisoen by Fort Frederick, naby Algoabaai. Nadat die Britte in 1806 weer beheer oor die Kaap geneem het, het Alberti besluit om na Nederland terug te keer. Jacob Glen Cuyler, wat in Amerika gebore is, is in Januarie 1806 as die nuwe landdros van Uitenhage aangestel, 'n amp wat hy 22 jaar beklee het.  Cuyler was ook kommandant van Fort Frederick.  Cuyler het einde 1827 afgetree, hom op sy plaas gaan vestig en aan sy boerderybelange aandag gegee.  (http://m24arg02.naspers.com/argief/berigte/dieburger /2003/10/31/OB/9k/01.html)  So het die Uitenhage Distrik, wat vanaf 25 April 1804 bestaan en oorspronklik die distrikte Albany, Somerset-Oos en Port Elizabeth ingesluit het, feitlik die hele Oos-Kaap beslaan.  (http://www.herselman.co.za/Navorsing.htm)

Die kerk het reg van die ontstaan van Uitenhage ‘n groot impak op die gemeenskap gehad.  Die kerk was van die begin af een van die steunpilare in die gemeenskap en baie van die daaglikse aktiwiteite het daar rondom gedraai. Die eerste kerk in Uitenhage was die NG kerk, wat op daardie stadium onder die gesag van die regering gestaan het, en gevolglik as ’n staatskerk beskou was.  Dit was dan ook die gebruik, dat alle belangrike besluite van die destydse kerkraad, deur die regering bekragtig moes word alvorens daaraan uitvoering gegee kon word. Dit het die aanstelling van predikante, die oprigting van geboue ensovoorts ingesluit, ‘n baie lang en uitgerekte proses in daardie tyd. Die aanstelling van kerkraadslede moes deur die plaaslike landros bekragtig word, wat ook self op die kerkraad gedien het. Die eerste kerkraadsvergadering het op 11 Desember 1817 plaasgevind. (http://goandproclaim .co.za/downloads/file/pdf/gemeenskapsanalise_feb_2009.pdf)

Uitenhage is bekend as ‘n nywerheidsdorp. Die industrie wat hierdie definisie aan Uitenhage ontleen het was die wolwassery wat sy ontstaan in 1845 gehad het. Die skoon en groot hoeveelheid water van die Swartkopsrivier was die ideale omgewing vir die vestiging van die industrie. Daarmee saam het die vooruitgang van die wolboerdery in die binneland die ontstaan daarvan verdere stukrag gegee. Dit was dan ook die industrie en die gevolglike vraag na ‘n padvervoerdiens na Port Elizabeth se hawe wat tot die totstandkoming van die Uitenhage/Port Elizabeth treinspoor gelei het. Aanvanklik is die gewaste wol met waens per pad vervoer al langs die noorde kant van die Swartkopsrivier tot by ‘n pont laer af in die rivier en weer verder aan die suidekant tot in Port Elizabeth. Later is ‘n brug gebou wat as ‘n tolhek bedryf is, seker die eerste en tot dusver enigste tolhek in die Oos-Kaap. Gedurende 1871 is ‘n privaatmaatskappy gestig wat begin het om die spoor te bou en is die spoorlyn op 21 September 1875 geopen.  (http://goandproclaim.co.za/downloads/file/pdf/gemeenskapsanalise_feb_2009.pdf)

Die eerste kerkgebou se oprigting is in 1817 goedgekeur, maar dit is eers op 9 September 1843 ingewy.  Die NG Moederkerk was vir feitlik honderd jaar alleen verantwoordelik vir die bediening van NG lidmate in Uitenhage en in die res van die gebied wat onder die gesag van die plaaslike Drosdy gestaan het.  Die Moedergemeente was dan ook verantwoordelik vir die totstandkoming van verskeie ander gemeentes in en rondom Uitenhage en selfs verder. (http://goandproclaim.co.za/downloads/file/pdf/gemeenskapsanalise_feb_2009.pdf

Uitenhage omstreeks 1860 met as middelpunt die vorige NG kerkgebou. (https://af.wikipedia.org/wiki/NG_gemeente_Uitenhage)

Voor die stigting van 'n afsonderlike gemeente op Somerset-Oos in 1825 het een deel van die gemeente van die distrik aan die NG gemeente Graaff-Reinet en die suidelike deel aan die NG gemeente Uitenhage behoort. Die gemeente was met sy stigting geweldig uitgestrek. Dit het die veldkornetskappe Bruintjes Hoogte, Zwagershoek, Baviaans Rivier, Oost-Rietrivier en Boschjesmans Rivier ingesluit. In 1838 is die sieletal op 2 633 bereken.  Die gemeente het nog in die jaar van sy stigting 'n predikant gekry, maar dit sou baie lank duur voor hulle in besit sou kom van 'n eie kerkgebou. Die landdros het 'n grootse plan aan die goewerneur voorgelê en selfs 'n skets van die gebou saamgestuur, maar soos graaf Bathurst met die stigting opgemerk het, was daar geen geld daarvoor in die landskas nie.  Intussen het die gemeente aanbid in een van die ou regeringsgeboue van Somerset Farm wat hulle vir kerkdoeleindes ingerig het.  (https://af.wikipedia.org/wiki/NG_gemeente_Somerset-Oos)

Uiteindelik kon die hoeksteen op 25 Desember 1830 gelê word. Nêrens word vermeld wanneer die kerk ingewy is nie, maar dit het klaargekom. Die toring is eers later aangebou. Somerset-Oos se eerste leraar was ds. George Morgan. Hy neem in 1841 'n beroep na die Presbiteriaanse kerk in Kaapstad aan en ds. John Pears volg hom in dieselfde jaar op en word op 24 Oktober bevestig. (https://af.wikipedia.org/wiki/NG _gemeente_Somerset-Oos)  Regs:  Ds. John Pears, tweede leraar van 1841–1866.  (https://af.wikipedia.org/wiki/NG _gemeente_Somerset-Oos)


Aberdeen is 'n dorp in die Oos-Kaapse Karoo in die Kamdeboo-berge.   (https://af.wikipedia.org/wiki/Aberdeen,_Oos-Kaap)   Dit is 179 km Noordwes van Somerset-Oos geleë.  Die behoefte na 'n eie dorp en kerk het die mense in die Aberdeen distrik aangespoor om 'n versoek voor die kerkraad van die gemeente Graaff-Reinet te lê. Op 10 September 1855 word hierdie versoek gerig en toestemming vir die stigting van 'n nuwe gemeente is op Oktober 1855 gegee. Die naam van die gemeente was aanvanklik "Brakkefontein", maar is later hernoem na Aberdeen, die eerste konsultant, ds. A. Murray, se geboortedorp in Skotland.  Die plaas het aan Jan Vorster behoort en is aangekoop vir 65 000 Riksdaalders.  Die veiling het vier dae geduur en was die langste veiling wat nog in Aberdeen gehou is.  Die eerste kerkraad het uit net ses lede bestaan en die eerste kerkraadsvergadering het op 28 November 1855 plaasgevind. Op hierdie eerste vergadering word alreeds besluit om die kerkgeboutjie te vergroot deur 'n konsistorie aan te bou. Op 21 Januarie 1856 word mnr. Swarts aangestel as Voorleser van die gemeente. Hy het hierdie pos egter nie lank beklee nie en is deur mnr. D.S. van der Merwe opgevolg. Mnr. van der Merwe was ook die eerste sendeling van die gemeente. Vier jaar na die stigting van die gemeente word daar weereens oor kerkbou gepraat, want die ou geboutjie het te klein geword. Die nuwe kerk moes volgens die Murraysburgkerk gebou word.  

In die jare wat gevolg het, het die gemeente deur verskeie probleme geworstel, maar ten spyte daarvan is die nuwe kerk tog voltooi.  Na die tiende beroep uitgebring is, is die Skotse leraar, ds. Thomas Menzes Gray, op 20 September 1862 hier bevestig en het 'n nuwe tydperk vir Aberdeen aangebreek. Ds. Gray is aangestel onder moeilike omstandighede in die gemeente en gemeenskap. Met sy aankoms het daar 'n groot droogte geheers en die onkoste vir die bou van 'n nuwe kerk het swaar op die gemeente gedruk. Dit was nie net bouskuld en droogte wat die gemeente met hul hande in die hare laat sit het nie, maar ook die euwels van die tyd, naamlik drankmisbruik en agterstallige belastings van die erwe wat met moeite ingevorder is.  Nieteenstaande al hierdie struikelblokke het die gemeente se behoefte aan 'n eie leraar en nuwe groter kerk tog geseëvier.  (http://www.aberdeen-sa.co.za/abd-ch-drchistory.htm)  Foto:  Ds. T.M. Gray

Die huise op die dorp het al meer geword. Winkeltjies kon 'n bestaan begin maak en die kinders moes 'n opvoeding ontvang; dus is 'n gedeelte van die ou kerk in 1864 afgestaan vir gebruik as 'n publieke skool. Die kerkraad het ook nog deurentyd aandag gegee aan sending, ongeag groot finansiële druk. So word daar in 1865 besluit om ses gemeentelede te kies wie se plig dit sou wees om die geestelike welsyn van die ander gemeenskappe te bevorder en in 1866 word 'n deel van die ou kerk vir die doel afgestaan.   In 1873 word daar ook 'n stuk grond afgestaan waarop hulle 'n Sendingkerk kon bou.  Ds. Gray het tydens een van sy vele besoeke aan sy geboorteland skriftelik aansoek gedoen om weens gesondheidsredes uit die gemeente ontslaan te word. Die versoek is op 6 September 1886, na 24 jaar diens, toegestaan.  (http://www.aberdeen-sa.co.za/abd-ch-drchistory.htm)

Die Groot Trek se eerste beweging het sy ontstaan dan in die Oos-Kaap gehad.  Die hoofrede vir die Groot Trek was die verset van die Boere teen die Britse koloniale onderdrukking van die Oos-grens Boere. Daar was kleiner faktore ook, maar opsommenderwys kan gesê word dat dit die Boerevolk se hartsbegeerte was om vry en onafhanklik van koloniale oorheersing te wees, wat aanleiding tot die Groot Trek gegee het.  (http://www.angelfire .com/folk/brinkfamily/files/hoofstuk2.pdf)