Stamvader - Daniel LAUFS, geb. 7/10/1802

Daniël, geb. 7/10/1802, Odenkirchen Rheinland, Preusen x 01/01/1840, Uitenhage met Gesina Helena MATTHEUS, geb. c 1822, d.v. Carl Friedrich Benjamin Mattheus (Matthyse) en Wilhelmina Hermina van Rooyen.

Kinders van Daniël Laufs en Gesina Helena Mattheus:

b.1.  Johanna Wilhelmina, geb. 13/04/1841, ged. 02/05/1841, Somerset-Oos, x met Lourens Daniel ERASMUS.

b.2.  Johan Hendrik, geb. 11/11/1842, ged. 11/12/1842, Somerset-Oos, x 1860, Aberdeen met Martha Johanna GERBER.

b.3.  Gesina Helena (Elena op doopinskrywing en huweliksertifikaat) geb. 05/07/1845, ged. 10/08/1845, Uitenhage, x 09/05/1864, Uitenhage met David Jacobus PIETERSEN.

b.4.  Karel Frederik,  geb. 09/06/1847, Uitenhage, oorl. 19/07/1932, x 06/03/1871, Uitenhage met Maria Margaretha Petronella DEYZEL, geb. c. 1850, Uitenhage, oorl. c. 1919.

b.5.  Wilhelm Albert, geb. 27/07/1849, ged. 25/11/1849, Uitenhage, x Johanna Dorothea VAN DE VYVER.

b.6.  Sibella Christina, geb. 18/10/1851, ged.17/11/1851 Uitenhage, oorl. c 1874 x c. 1871 met Isaac Bartolomeus VAN DE VYVER, geb. 07/07/1874.

b.7.  Hester Cornelia, geb. 02/05/1854, ged. 15/08/1854, Uitenhage, x 11/06/1877, Aberdeen met Barend Jacobus VAN HEERDEN, wew.

b.8.  Wilhelmina Hermina, geb. 21/09/01856, ged. 18/02/1857 Uitenhage, x 20/03/1877, Aberdeen met Barend Jacobus MOUTON.

b.9.  Cornelia Catharina, geb. 19/08/1861, ged. 28/11/1861, Uitenhage, x 17/10/1881, Aberdeen met Stephanus Johannes STEYN.

b.10.  Frederika Elizabeth Jacoba, geb. 28/11/1866, ged. 01/02/1867 Uitenhage.

Daniël Laufs is die stamvader van die Laufs familie van Suid-Afrika.  “Die enigste inligting oor Daniel Laufs in SA bronne is dat hy op c. 1818 op Uitenhage gebore is.  By die doop van hulle tweede kind en eerste seun, kry hy die naam Johan Hendrik en as een van die vier doopgetuies word Johanna Gertruida Laufs opgegee.  Hierdie drie name verskyn in die geboorteberig in 1902 uit Pruise en saam met die gebruik dat die eerste seun die oupa aan vaderskant se name kry, lyk dit na ‘n baie sterk aanduiding dat Daniel Laufs nie in 1818 hier gebore is nie, maar op 17 Oktober 1802 in Odenkirchen, Reinland, Preussen, die seun van Johann Heinrich Laufs en Johanna Gertrud Kukenscshreibers.  Die name Karel Frederik en Daniel Matheus in die Laufs-familie word ook deur die bostaande verduidelik.” (Schultz, Daniel Matheus:  Die Laufs familie in Suid-Afrika)

Teen 1818 was Daniel Laufs ‘n leerlooier van Zuurberg, Uitenhage.  Dr. J.P. Botha gee die volgende beskrywing van 'n boer as leerlooier:  

As ‘n boer op ‘n plaas gekom het en hy het sy huis klaar gemaak, was een van die eerste dinge waarvoor hy moes sorg, die looikuip. Uit die looikuip moes die leer vir die skoene kom, maar ook die gelooide velle vir die klere wat hulle gedra het.  Die beste kuip is van ‘n kwaggavel gemaak en die tweede beste was ‘n blouwildebeesvel. Die vel word aan ‘n houtraam geheg wat weer op vier ingeplante paaltjies vaskom.  Soms is ‘n hele paar kuipe gemaak, een vir looi en een om asyn in te maak.  In die kuip kom sterk kalkwater, waarin die vel geplaas word om die hare te laat afgaan.  Daarna word die vel buite opgehang en die hare met ‘n mes afgestroop. Dan word die kalk uitgevars uit die vel deur dit lank in vars water te spoel.  Daarna begin die looiery.  Dit het met die blare van bergbas plaasgevind of met die wortels van elandsboontjies.  Bergbasblare het leer gelooi wat lig was en elandsboontjie-wortels se leer was rooier.   Indien die boer die rooi kleur wou uittrek, laat lê hy die vel in ‘n mengsel van appelboomblare.  Die vel word dan so bleek soos gekoopte molsvel. Daarvan het hulle klere gemaak.  Met noukeurige werk by die looiery, waar die bas dikwels vervang is, is dun velle soos bokvelle en skaapvelle klaar gelooi in 15 dae.  Beesvelle en wildebeesvelle het tot 30 dae gelê voordat hulle deurgelooi was.  Na die looi word die vel uitgestoot met die graaf en op ‘n klip geslaan tot die leer droog is.  Dit word gedoen om die leer sag te laat bly.  As die pa vir sy seun ‘n paar draskoene wou maak, het hy ‘n stuk soolleer in die water gesit. As dit sag is, moes die seun sy voet daarop sit en dan meet pa die regte vorm en grootte sool af en sny dit uit.  Dan meet hy oor die kind se voet hoe groot die twee stukke oorleer van die voor- en agterklap moes wees. Dit word met riempies van duikervel aan die sool vasgewerk en die skoene was klaar.  Hierdie velskoene het lekker gedra, al het hulle punte omgekrul.  Die meisies se skoene was van dun velle en ‘n bietjie hoër gemaak.  Daar is nooit kouse by die skoene gedra nie.  Volwassenes het vir hul skoenmakery leeste gebruik, wat hulle eers self moes maak.  Die hout vir die leeste moes nie te hard wees nie.  Wilgerhout is meesal gebruik.  Dit is afgewerk met behulp van ‘n snymes, ‘n klein byltje en ‘n rasper.   Toutjies is gebruik om op die voet en op die lees te meet hoeveel om op ‘n sekere plek nog afgeneem moes word.  Die leeste is gewoonlik effens groter as die voete gemaak, want hulle het nie gehou van skoene wat te nou was en liddorings gedruk het nie.  Die skoen, die sool, voor- en agterklap, is op en om die lees vasgesit en geheel en al vasgewerk en voltooi.  As die skoene klaar is, moes hulle op die leeste goed droog word, om in goeie vorm te bly .  Vir vroumense is die oorleer van dunner velle gemaak.  As sy lief is vir swart skoene, het sy ‘n stukkie geroeste yster in asyn laat lê vir ‘n paar dae..  Die asyn het die bruin gelooide leer só swart gemaak dat dit geblink het.  Daar was geen spyker in die leer wat ‘n mens kon seermaak nie.  Alleen onder die hak was daar ‘n dubbel sool.  Die skoen was lekker sag en lig, maar het nie baie van water gehou nie want dan het die riempies gerek en losgegaan.  Daarom het hulle later begin om skoene te maak deur skoenspykertjies te gebruik, maar dan moes daar ‘n binnesool wees.  Die skoene het nou swaarder en stywer geword as die riempieskoene, maar het water beter verdra en was maklik om op die ysterlees te versool.  (http://gelofteland.org/index.php/ons-volk/19-ons-boerevolk-destyds/270-die-boer-leerlooier-skoenmaker.html)

Op 01/01/1840 trou Daniël Laufs met Gesina Helena Mattheus, die oudste dogter van Carl Fredrich Benjamin (Mattheus) Mattyse, (1790-1843) en Wilhelmina Hermina van Rooyen, (1781-1882).  Carl Fredrich Benjamin (Mattheus) Mattyse het in 1816 vanaf Pruise in die Oos-Kaap aangekom en het hom op Somerset-Oos gevestig.

“Zuurberg” het op daardie stadium nog binne die gemeente van Uitenhage geval.  Volgens die landkaart lê dit egter aan die Aberdeen-kant van die Winterhoekberge.  Daniël se kinders het dus byna almal hulle lidmaatskap na Aberdeen oorgedra.  Hulle het egter soms elders heen vertrek, hoewel vier van hulle op ’n keer gelyk hul attestate opgevra het, net om dit na 18 maande maar weer daar te kom inhandig. (Schultz, Daniel Matheus:  Die Laufs familie in Suid-Afrika)