f.4. Abraham Pieter NEL, geb. 15/08/1863

f.4.  Abraham Pieter (Piet), geb. 15/08/1863Calvinia, oorl. 02/11/1928, begr. Augrabies x 08/12/1885, Kenhardt met Hendrina Maria HENDRIKSE, geb. 26/03/1866, oorl. 08/09/1919, d.v. Hermias Cornelius Nieuwoudt Hendrikse (1847-1902) en Hendrina Maria Vlok.

Abraham Pieter was die seun van Abraham Pieter Nel en Christina Gloudina Louw.

Abraham Pieter Nel en Hendrina Maria Hendrikse

Die Nel familie, die Hendrikse familie en die Nieuwoudt familie het teen die einde van die 19de eeu vanaf Nieuwoudtville af in die rigting van die Oranjerivier getrek.  Hulle was almal boere wat agter weiveld aangetrek het.  Die drie families het familieverbintenis met mekaar gehad.

Water in die Boesmanland is baie skaars.  Boorgate en windpompe het die probleem tot 'n groot mate opgelos, hoewel daar groot areas is wat waterloos is.  Abraham Pieter Nel is met Hendrina Maria Hendrikse getroud.  Haar pa en ma, Hermias Cornelius Hendrikse en Hendrina Maria Vlok was neef en niggie.  Hendrina was beskryf as 'n dierbare, saggeaarde en gasvrye vrou.  Hulle het altesame 10 kinders gehad.  Die oudste van hul kinders, Abraham Pieter is tydens die Anglo-noereoorlog (1899-1902) aan koors, in ‘n tronk op Kenhardt oorlede.  Die seun was ongeveer twaalf of dertien jaar oud toe hy dood is.
Hierna is ‘n tweeling gebore wat dood is met geboorte en na hulle is Hendrina Maria in 1891 gebore.  Sy was dus die oudste van die kinder swat geleef het.  Hermias Cornelius is in 1893 gebore, daarna Jacobus Gideon Louw in 1895, Egbertus Johannes in 1897, Ebenhaser in 1900, Abraham Pieter in 1902 en Johannes Izak in 1907.

Abraham Pieter Nel en Hendrina Maria Hendrikse

Piet en sy vrou het hul eers op Droëgrond, op die huidige Pofadderpad gevestig.  Hy het die grond van die regering gepag.  Piet kon egter nie water op die plaas kry nie en het besluit om verder noordwaarts tot teen die Oranjerivier na die plase Orange Falls en Noudonsies te trek. Die plase grens aan mekaar.  In 1893 het Piet en sy swaer Mias Hendrikse die grond op ‘n veiling van die staat gekoop.  Die twee plase Rooipad en Renosterkop is op dieselfde dag per openbare veiling te koop aangebied op Kakamas.  Aan die noordelike kant grens die plaas Rooipad aan die Oranjerivier, suid aan Maria-se-vlei, oos aan Renosterkop en wes aan Witklip.  Piet Nel het met sy perd en die nodige geld na die veiling gegaan.  Daar was Jode wat in Renosterkop belanggestel het en hulle het vir Piet Nel gevra om nie 'n bod op die plaas Renosterkop te maak nie.  Die Jode het toe die plaas Renosterkop gekoop en Piet het die plaas Rooipad gekoop.

In die laaste jare van die 19de eeu het rampe soos peste, droogte, siekte en verarming die pioniergemeenskappe getref.  Bo-op dit het die Anglo Boereoorlog in Oktober 1899 uitgebreek.  Die inwoners van hierdie area het nie net met die twee Republieke gesimpatiseer nie, die oorweldigende meerderheid was bereid om tot die stryd toe te tree.  Piet Nel se oudste seun Abraham Pieter het hom tot die stryd gewend en is gedurende die oorlog in die tronk in Kenhardt aan koors oorlede.  Hy was 12 of 13 jaar oud toe hy dood is.

Na die rebellie het toestande in die distrik vinnig na normaal teruggekeer.  Dit was 'n tyd van berusting en aanpassing, maar ook van stadige opbou, veral op die gebied van onderwys.  Voor 1900 was onderrig hoofsaaklik verskaf deur rondgaande onderwysers.  Piet Nel het in 1907/8 'n skool op Noudonsies gebou.  Die skool het bestaan uit 'n groot vertrek aan die woonhuis, met 'n kamer vir die onderwyser.  Juffrou Hugo van Ceres het vir een jaar daar onderwys gegee.  Bertus en Ben het hier begin skoolgaan en het die skoolboekie, Step-by-step gebruik.

Noudonsies se hele leerlingtal met mnr. Brewis in die middel

Piet Nel het Maria-se-vlei en Witklip gepag.  ''n Ene mnr. Sacks, 'n prokureur, het daarin geslaag om Witklip op 'n veiling te koop aangebied te kry.  Piet Nel het dit gekoop.  Jacobus de Bruyn het Maria-se-vlei by Piet Nel gekoop en dit weer aan Berghs verkoop.  Hulle het die 3000 morg grond later weer aan Bertus Nel, Piet se seun verkoop en hy het dit Vredehoek genoem.

Die plaas Bysteek het aan 'n mnr. Badenhoste behoort en Koos Coetzee en Piet Nel het dit van hom gekoop. Oordrag op Piet se naam het op 20 Februarie 1909 plaasgevind.

Die Augrabies waterval was aanvanklik deel van die eiendom wat aan Piet Nel behoort het.  Die groot kloof van die Augrabies waterval verdeel twee plase.  Waterval op die noordelike bank en Rooipad aan die suide.  Tot 1910 was die hoofwaterval ingesluit by die Rooipad eiendom.  Piet Nel het die waterval en 'n gedeelte van die aangrensende grond (waarskynlik 6000 morg) aan die Unie-regering verkoop vir 9000 pond.  Sover vasgestel kon word is dit die enigste geval op rekord waar 'n bekende waterval verkoop is.  Bewerings word gemaak dat dit Generaal Smuts self was wat vir Piet Nel genader het met onderhandelings vir die aankoop van die grond.  Daarna is 'n persoon deur die regering aangestel om oor die prys te onderhandel.  Piet Nel het die eerste voorstel aanvaar en het jare later eers gehoor dat 'n baie hoër bedrag vir die aankope van die valle bewillig was.  Daar was aantuigings dat die tussenganger die balans in sy eie sak gesteek het.  Daar word beweer dat hierdie wete die vroeë dood van Piet Nel beteken het.

'n Afstammeling van Piet Nel het vertel dat Piet glad nie met papiergeld gewerk het nie en dat alle geldtransaksies waarby hy betrokke was, in goud beklink is.  Piet Nel het blykbaar die geld vir die verkoop van die valle, in goue ponde gekry.  Goue ponde was blykbaar algemeen in gebruik, maar slegs deur vermoënde mense.

'n Interressante storie word vertel dat Piet Nel, saam met van sy Hendrikse swaers, gevange en verhoor was tydens die Rebellie.  Volgens die verteller is hulle bedrae beboet wat duisende ponde beloop het.  Piet Nel sou dan ook die geld wat hy vir die verkoop van die Valle gekry het, gebruik het om hierdie boetes te betaal en dat daar dus min daarna oorgebly het.  Die verhaal is waarskynlik 'n verdigsel, aangesien Piet Nel nie direk by die Rebellie betrokke was nie.

Piet Nel was nie een van die rebelle nie, net sy seun Kolie en die grootmaakkinders van die Hendrikse, Jan en Mias.  Piet Nel was egter die rebelle goedgesind.  Daar word gespekuleer dat dit die rede was waarom die Uniemanne ‘n kamp op Rooipad opgesit het.  Hulle was blykbaar bang vir die Nel-familie, nie net Rooipad se Nel familie nie, maar ook die Nels van Nous, die Klindt familie, die Hendrikses en die van Rensburgs.  Piet Nel se vrou, net soos Jan Nel se vrou was teen die rebellie gekant.

Alhoewel hy nie direk by die Rebellie betrokke was nie, het dit tog 'n invloed op hom en sy familie gehad, soos die aantuiging wat 'n kleurlingman een oggend vroeg by die Uniekamp gemaak het.  Hy het beweer dat hy vir Piet Nel die vorige Woensdag by Stadler, by Schuitdrift gesien het.  Volgens hom het Piet Nel 'n rooi esel gery.  Sou hierdie bewerings waar wees, sou dit hoogverraad beteken het.  Piet Nel is ondervra, maar daar is bevind dat die beskuldiging 'n leuen was.

Nadat Piet Nel die valle verkoop het, het hy nog twee plase aangekoop.  Volgens oorlewering het sy gronde gestrek vanaf Blouputs tot teenaan die dorp Augrabies.  Laterjare is die grond tussen die seuns verdeel, op so 'n manier dat die gedeelte teen die rivier smal was en dit wyer uitkring na die buitegronde toe, sodat daar suipings op elke plaas sou wees.

Die oorspronklike huis van Piet Nel het op die ou Rooipad gestaan.  Dit was op poeierige grond gebou en daar was baie klippe - nie 'n geskikte perseel vir 'n huis nie.  In ongeveer 1917 het Piet Nel vir sy vrou 'n groot huis op Rooipad gebou, waarin hulle gewoon het tot aan die einde van hulle lewens.  Die sinkplate van hierdie huis was van Kimberley af aangery met ossewaens.

Hendriena Nel het net 2 jaar in die huis gewoon, voordat sy dood is.

EGGSA
Northern Cape, Gordonia district, Augrabies, Padrooi 13, Nel cemetery

Na sy vrou se dood het Piet Nel aan 'n Steenkamp meisie van Marchand verloof geraak. Hy het egter die verlowing verbreek.  Bewerings is gemaak dat dit gegaan het oor oneenigheid t.o.v. koring wat geleen is.  Die ring het twee diamante gehad, wat hy vir Bertus en izak gegee het.

Met die afsterwe van Piet Nel op 2 November 1928 het sy vier seuns, Piet, Bertus, Ben en Izak 60 000 morg land op die suidelike bank geërf.  Piet Nel se bynaam was Piet Geld.  Hy het baie geld aan mense geleen en het dan die bewys vir die lenings in 'n trommeltjie onder sy bed gehou.  Na sy dood het die trommeltjie op geheimsinnige wyse verdwyn en so kon die geld nooit ingevorder word nie.

EGGSA
Northern Cape, Gordonia district, Augrabies, Padrooi 13, Nel cemetery