g.3. Hermias Cornelis Nieuwoudt NEL, geb. 12/07/1893

g.3.  Hermias Cornelis Nieuwoudt (Mias), geb. 12/07/1893, Rooipad, oorl. 24/05/1936 x Christina Alida (Chrissie) HENDRIKSE, geb. 21/06/1894, oorl. 12/07/1971.

Hermias Cornelis Nieuwoudt was die seun van Abraham Pieter Nel en Hendrina Maria Hendrikse.

Mias, Hendrina en Kolie het op Nieuwoudtville skoolgegaan en het by ‘n tannie van hulle gaan woon.   Hulle het met ‘n wa gery om by die regeringskool uit te kom.  Barend Johannes Mouton van Heilbron was vir een jaar hulle onderwyser

Kolie en Mias het in 1905 met skool begin op Nieuwoudtville.  Die dogter is Jan Hendrikse se dogter Kotie wat jonk oorlede is.

Die kinders het van kleins af geleer om baasswemmers te raak.  As hulpmiddel in die magtige Oranjerivier het hulle ‘n drywende wilgerstok (wilgerblok), met ‘n sterk pen wat stewig ingedryf was vir vashouplek,  gebruik.  Mias Nel en Koos Gouws was destyds deur die jong mense beskou as van die sterkste swemmers in die Oranjerivier. 

Wanneer die rivier afgekom het, het Piet Nel vir sy seuns, dag en nag bokke laat uitswem uit die eilande uit.  Dit was ‘n moeilike taak, maar die seuns het die bokke om die nek gevat en deurgeswem.  Die bokke het baie groot geraak op die eilande.  Daar is beweer dat Piet Nel se bokkapaters eenkeer so groot soos tollies gelyk het. 

Soms moes hulle selfs ander mense deurswem van die eilande af, wanneer die rivier in Hoogwater was en daar is beweer dat van die vroue wydsbeen op hulle skouers gesit het, wanneer hulle deurgeswem is.

As jong man was Mias ‘n rebel in die Suidwes-veldslag van 1914.  Mias was die dag saam met Manie Maritz toe hy homself losgemaak het van die Unie.

Mias was die eienaar van een van die heel eerste motorkarre wat in die area was.  Hy het ‘n model-T Ford in 1917 aangeskaf.  Hierdie motor het vir Mias teen Ford laat besluit vir die res van sy lewe.  Sy voorkeure in motors was Chrysler,  Dodge Plymouth of De Soto.  Mias se rooibruin 1927/28 De Soto motor met sy swart modderskerms bestaan vandag nog.  
Wanneer daar destyds na Upington toe gery is, moes die familie dikwels oorslaap, aangesien die motors nie die Bobbejaankrans kon uitkom nie.  In sulke gevalle is die motor agteruit teen die krans uitgery.  Dit was nie die enigste struikelblok met die motor oppad Upington toe nie.  Warmsand het soorgelyke probleme opgelewer en hulle kon maklik vir ‘n halwe dag daar staan.

Mias is in 1917 met Christina Alida Hendrikse getroud.  Chrissie was ‘n baie presiese en netjiese vrou.  Mias en Chrissie het mekaar op ‘n familielid se begrafnis ontmoet.  Haar pa en Hendrina Nel was neef en niggie.  Sy het tot 1947 op Rooipad gewoon.


Minnebrief wat Mias aan sy toekomstige bruid gestuur het.  Die datum waarop hulle moontlik in die huwelik sou tree word daarin gemeld.

Hermias Cornelis Nieuwoudt Nel en Christina Alida Hendrikse

Mias was, net soos sy pa, ‘n veeboer.  Die Nels was van die eerste mense in die Unie wat met karakoelskape geboer het.  Die skape is van Suidwes-Afrika af ingesmokkel.  Die karakoele is by Onseepkans en Schuitdrift deur die rivier gesit.  By Schuitdrift het hulle takke aan donkies se sterte vasgemaak om die skape se spore mee dood te vee.  Die velle van die lammers is dan weer by Schuitdrift na Suidwes toe teruggevoer.  Blydeverwagt was destyds so groot dat daar vandag ses boere is wat Blydeverwagt besit.

Toe Piet Nel in 1928 dood is, het Kolie en Mias elk ‘n gedeelte van Rooipad geërf.  Uit die boedel het Kolie vir Gamaip gekry en Mias het vir Bysteek gekry.  Hierna het Mias die Blydeverwagt gedeelte vir Kolie se Rooipad gedeelte verruil, aangesien sy kinders skooltoe moes gaan.

Mias en Izak

Deftigheid destyds was aan die orde van die dag, veral by diegene wat dit kon bekostig.  Die mense het met hulle “dress suit” gaan dans.  Hulle het ook nie in die straat sonder ‘n jas oor die “dress suit” gestap nie.  Mias het vir hom ‘n swart “dress suit” met binne afwerking van sy by ‘n ene F.C. Jooste in die Paarl laat maak.


Vier kinders is uit Mias en Chrissie se huwelik gebore:  Anna, geb. 1919;  Drienie, geb. 1921;  Pieter, geb. 1923; en Mias, geb. 1933.
Mias Chrissie en kinders

Die ses Nel broers, afgeneem in 1928.  Bertus, Ben Mias, Piet, Kolie en Izak by Mias se nuwe 1928 De Soto motor.

Op 25 Mei 1935 was Mias se ongeluk met die Plymouth.  Dit was die langnaweek in Mei, Hemelvaartnaweek en Mias het pas  van die Kaap af by die huis aangekom met die nuwe Plymouth.  Mias is daardie dag met sy eie motor doodgery.



Chrissie en haar seun Mias, na haar man se ongeluk

EGGSA
Northern Cape, Gordonia district, Augrabies Padrooi 13  Nel cemetery


EGGSA
Northern Cape, Gordonia district, Augrabies Padrooi 13  Nel cemetery