g.4. Jacobus Gideon Louw NEL, geb. 11/06/1895

g.4.  Jacobus Gideon Louw (Kolie), geb. 11/06/1895, oorl. 01/04/1986, x 10/10/1938, Upington met Elsie Johanna Jacoba VAN DER MERWE, d.v. Abel van der Merwe.

Jacobus Gideon Louw was die seun van Abraham Pieter Nel en Hendrina Maria Hendrikse.


Ten spyte van die feit dat Piet Nel en sy familie as vermoënde mense beskou was, het Kolie vertel dat hulle as jong kinders net een broek en hemp gehad het om aan te trek en dat hulle onder ‘n kombers moes lê, vir solank dit sy ma geneem het om die klere te was en te stryk. (Hy het waarskynlik gek geskeer).  Met die Anglo-boereoorlog van 1899-1902 was Kolie tussen 4 en 7 jaar oud.  Hy het egter vertel dat hy self gedurende hierdie periode op Leliefontein was.  Manie Maritz, genl. Smuts en genl. Hertzog was tot op Darling.  Dit was die naaste wat hulle aan die Kaap was in die Boereoorlog.  Hulle het vir Springbok en Concordia gaan inneem.  Met die aftrek het Manie Maritz ‘n afspraak met die basters van Leliefontein gehad.  Met hierdie afspraak sou hy hulle toespreek en hulle waarborg dat hulle nie gehinder sou word, as hulle nie met die oorlog sou inmeng nie.  Die basters en die Engelse het egter reeds ‘n lokval by die sendingkerkie gestel.  

Kolie het ook vertel hoe Maritz en sy manne die Oranjerivier naby sy plaas oorgesteek het.  Hy het dit goed onthou, want hy en sy broers was almal goeie swemmers wat gehelp het om die Boere se perde deur die rivier te kry.  (Volksblad)


Volksblad

As kind het hy skape en bokke opgepas.  Hulle het die bokke op die eilande laat wei, terwyl die skaap op die buitegronde gewei het.  Wanneer die rivier skielik afgekom het, het hulle die bokke deur die rivier geswem.  Wanneer die veld te min was en daar met die skaap gerek moes word, het Kolie ook saamgegaan.


Kolie en Mias het in 1905 met skool begin op Nieuwoudtville.  Die dogter is Jan Hendrikse se dogter Kotie wat jonk oorlede is.

Kolie, Hendrina, en Mias het op Nieuwoudtville skoolgegaan en het by ‘n tannie van hulle gaan woon.   Hulle het met ‘n perdewa gery om by die regeringskool uit te kom.  Barend Johannes Mouton van Heilbron was vir een jaar hulle onderwyser.  Piet Nel het gesien dat Kolie 'n aanleg vir syfers het en het toe vir hom na Pirrie Marais vir ekstra rekenklasse gestuur.

Ten tye van die Rebellie was Kolie al ‘n jong man, maar te jonk om self aan die Rebellie deel te neem.  Tydens die rebellie het een van die Engelse soldate en Kolie struweling opgetel.  Piet Nel was ‘n ou vriend van Kennedy.  Hy het net gesê dat hy nie tussenbeide sou tree, indien daar moeilikheid tussen sy kinders en Kennedy se manne sou uitbreek nie.

Die dag toe die rebelle vir Kakamas probeer inneem het, kon die kanonskote op Rooipad gehoor word.  Op 21 Oktober het Maritz die regeringstroepe op Keimoes aangeval, maar is self gewond tydens die aanval.  Daar was ‘n groot oormag Unietroepe en Maritz en sy rebelle moes terugval tot op Kakamas.  Voor die groot geveg het Piet Nel vir Kolie met ‘n briefie na sy broer Mias, wat ‘n rebel was, gestuur.  Op Kakamas, by die polisiestasie het Kolie mense ontmoet wat van die geveg by Keimoes af gekom het.  Mias het vir hom vertel dat Maritz deur die been geskiet was.  Kolie was nog by Mias in die tent, toe ‘n Fordkarretjie wat deur muile getrek was, met Maritz daarop, stilgehou het.  Kolie het gou die boodskap afgegee en vertrek, uit vrees dat hy as ‘n rebel gevange geneem kon word.

Op ‘n keer het die Uniemanne die huis op Rooipad se solder, wat vol koring, lusern en mielies was, se deur afgebreek, terwyl die mense nie op die plaas was nie.  Hulle het die lusern uitgegooi en die koring op die grond uitgeskud.  Piet Nel se eiendom was vreeslik verniel deur die uniemanne wat geplunder en vernietig het sover wat soos hulle gegaan het.



As jong man was Kolie ‘n spekulant met baie ondernemingsgees.  Hy het groot troppe skaap by boere gekoop.  Hy en Mias het dikwels deur die Boesmanland en die Namakwaland gery om skaap te gaan koop.  Die Nel broers was almal hardwerke flukse mense wat goeie besigheidsmanne en taai onderhandelaars was.  Kolie was goed met rekenkunde.
Van jongs af was Kolie ‘n baie spoggerige man.  Wanneer hulle met geleentheid in die Kaap was het hy na ‘n kleremaker, ‘n ene Harris gegaan, waar hy dan materiaal uitgesoek het, waarmee Harris vir hom klere moes maak.  Hy was ook veral lief vir skoene en dit moes ook net van die beste gehalte wees.  Hy het altyd ‘n hoed en ‘n kierie gehad, wat ook net van die beste moes wees.



Mias en Kolie het aanvanklik saam op die plaas Blydeverwagt in Suidwes-Afrika gaan woon, waar hy met karakoelskape geboer het.  Hy was baie gesog onder die meisies en het baie meisies uitgeneem, maar is eers op die ouderdom van 42 getroud.  Abel van der Merwe het op die buurplaas van Blydeverwagt gewoon.  Daar het hy sy vrou ontmoet wat 21 jaar jonger as hy was.  Kolie en Ella is voor die magistraat getroud.  Abel van der Merwe het nie die troue bygewoon nie, aangesien dit vir hom onaanvaarbaar was.  Tog was hulle huwelik suksesvol en gelukkig.

FAMILYSEARCH


Karakoele op Blydeverwagt

Ella was ‘n baie positiewe en gasvrye vrou, wat baie knap met ‘n naald was.  Ook sy het altyd baie mooi aangetrek.  Destyds het sy met elke nagmaal ‘n volledige uitusting wat skoene, leerhandskoene en hoed ingesluit het, gekry.




Drie dogters is vir Kolie en Ella gebore.  Ella het eers twee weke voor die geboorte van haar eersteling gehoor dat sy ‘n tweeling verwag.  Dit was vir haar ‘n groot skok.  Kolie het haar onderseun.  Die tweeling is Annie en Drienie (1940) en die derde dogter is Elsabe (1942).

Kolie was ‘n streng pa.  Hy het sy kinders pakke slae gegee met ‘n afgestroopte morning glory latjie.  Elsabe onthou hom as ‘n kwaai, maar regverdige man.


Regs staan Kolie se drie dogters met marietjie se troue

Ten spyte van sy lae skoolopleiding, het Kolie ‘n ongelooflike algemene kennis gehad.  Oorloë en politiek het hom baie geinteresseer en datums was vir hom geen probleem om te onthou nie.

Gedurende die Tweede Wêreld-oorlog (1939-1945) het van die Nel-broers se simpatie nie juis by die regering van die dag gelê nie.  Soos baie Suid-Afrikaners was hulle daarteen gekant, dat troepe deur die Suid-Afrikaanse regering gestuur is om teen Duitsland te veg.  Hulle het ook noue bande met die destydse Duits Suidwes-Afrika gehad.  Dit was moeilike tye t.o.v. dinge soos petrolkoepons, growwe meel wat onwettig gesif is, onbekombaarheid van sekere artikels, swak landboupryse, ens.   Die enigste werklike invloed wat die oorlog op Rooipad se Nel-broers gehad het, was dat hulle politieke oortuigings versterk is deur die gebeure.

Gedurende die Tweede Wêreld-oorlog was daar weer sprake dat Kolie geinterneer sou word, omdat hy vreeslik rebels was en nadat hy deur die landdros gewaarsku is, het hulle besluit om na die Republiek toe terug te trek.    Nadat hy sy grond in Suidwes verkoop het, het hy die plaas Droëhout in Upington gekoop en het daar vir ‘n klompie jare geboer.

Ben het vanaf Austraië af teruggekom en het Mias se grond by sy weduwee gekoop.  Hierna het Kolie weer die grond by Ben gekoop.  Kolie en sy gesin het na Rooipad toe teruggetrek en hier het hulle geboer tot sy dood.

Kolie Bertus en Izak se huise op Rooipad was deftige huise vir die tyd.  Die skoonsusters Matty, Anna, Annie, Dilena, Chrissie en Ella het baie naby mekaar gewoon, maar daar was altyd ‘n mooi verhouding tussen hulle.  Die broers was ook baie lief vir mekaar en het graag by mekaar gekuier.


Kolie se huis



Kolie het die oudste van al die Nel kinders geword.  Hy is op 1 April 1986 oorlede en is in die familiebegraafplaas saam met die res van sy broers begrawe.  Sy skoonseun Frans Nel het die boerdery oorgeneem en Ella is na die ouetehuis op Kakamas.





EGGSA
Northern Cape, Gordonia district, Augrabies Padrooi 13  Nel cemetery