g.6. Ebenhaser NEL, geb. 15/03/1900

g.6.  Ebenhaser (Ben), geb. 15/03/1900, oorl. 29/06/1976, x Jacoba Magdalena VAN WYK, geb. 08/08/1915,  oorl. 25/07/1987.

Ebenhaser was die seun van Abraham Pieter Nel en Hendrina Maria Hendrikse.

Ben is in 1900 gebore en was as kind blykbaar ‘n gruwelike stout seun.  Daar word beweer dat Piet Nel geen raad met hom gehad het nie.  In 1914 het Ben en Bertus by hulle ouma op Kakamas gaan woon en het hulle daar skoolgegaan.

Met die Rebellie was Kommandant Stadler en Piet Joubert helde onder die mense.  Piet Joubert was ‘n agterryer van Maritz.  Manie Maritz was selfs nog hoër geag.  Na die Rebellie het Ben Manie Maritz se pistool, karwats en sambok gekry.  Die pistool het ‘n tien duim loop, ‘n 800 treë visier en ‘n hout kolf.  Die pistool kon ook soos ‘n geweer gebruik word.  Ben se seun Harding het na hom die eienaar van die pistool geraak.  Ben het ook Joubert se perdesaal en sy toom gekry.

As volwassene was Ben ‘n joviale mens wat nie veel erg daaraan gehad het, om aardse besittings bymekaar te maak nie.  Hy het in Australië gaan studeer met die geld wat hy vir sy grond wat hy aan sy broer Mias verkoop het, ontvang het.

Ben was ‘n fris man, maar hy was kort.  Hy het breë skouers gehad en was ‘n liggewig bokser.  Hy het ongeveer 157 pond geweeg en kon verskriklik hard slaan.  Hy het vir New South Wales geboks waar hy was vir langer as 5 jaar was.

In 1924 het hy teruggekom Suid-Afrika toe.  Hy het by Boere Saamwerk Beperk (of B.S.B.) gewerk.  Hy en Boet Erasmus (na wie die Boet Erasmus stadium vernoem is) het in Port Elizabeth begin werk.  B.S.B. het aanvanklik as F.C.U. (Farmers Corporation Union) bekend gestaan.  Hy was ‘n goeie sportman.  Na sy terugkeer het hy vir Boland krieket en rugby gespeel.  Boland het toe sover as Beaufort-Wes gestrek.  Hy het op 56 jarige ouderdom gholf leer speel en het daarmee ook presteer.

Sy vrou se mense was vermoënde mense wat ‘n spogplaas op Carnarvon gehad het.  Hulle troue was baie groot.  Ben het Mias se grond by sy weduwee gekoop.  Hierna het Kolie weer die grond by Ben gekoop.  Ben het nie veel erg aan die boerderybedryf gehad nie.  Hy het  egter graag handel gedryf of gespekuleer.  Hy was ook baie lief vir jag en het ‘n goeie kennis van wild gehad.

Ben was nie bang om sy vuiste te gebruik nie.  Op Anna von Wielligh se mondigwordings partytjie by Keimoes Hotel, het daar 'n woordewisseling tussen hom en George van der Heever,  die skaapinspekteur gekom.  Ben het vir sy neef, Kallie Nel gevra om met George te praat.  Hy het gesê:  Hy krap nou vir my en ek sal hom neuk.  Ek wil nie, want George is ‘n goeie vriend van Gys (von Wielligh) en dis by sy dogter se partytjie.  George het hom egter uitgelok, wat tot ‘n vuisgeveg gelei het.

Net soos sy broers het Ben van jongs af in die Oranjerivier geswem en net soos hulle was hy ‘n baie goeie swemmer.

Die Augrabiesvalle was primitief en daar was geen goeie paaie daarheen nie.  Die mense het sommer deurgeswem na die valle toe.  In Augustus 1933 het Dirk Poggenpoel se voet geglip en het hy oor die rand van die valle getuimel.  Ds. Van Jaarsveld het beskryf:  Vroeër  in Augustus 1933 was dit ook sy onbenydenswaardige taak om met gryphake die lyk te gaan herwin van Dirk Poggenpoel wat ten aanskoue van sy oorstelpte moeder en suster die verraderlike katarak ten prooi geval het toe hy wou buk om ‘n bekertjie water te skep op die glibberige gladgepoleerde rotse, gegly en in die grondelose diepte afgestort het.  Ben Nel het met ‘n tou afgegaan om die liggaam uit te haal.  ‘n Kanoe met gryphake was agter hom laat sak en Ben het vir ure die poel deurgegaan en het uiteindelik die lyk in die spoelgat gevind.

Ds. A.Z.A. van Jaarveld skryf die volgende:  die seuns het die rivierterrein met sy systrome, sloepe, sankbanke, vangstrikke en gevaarlike voetangels soos die palm van hulle hand geken en was op die walle om die valle net so tuis en in hulle element soos die unieke plantusauruskoggelmander wat slegs daar voorkom en nêrens elders ter wêreld nie.  Daar was nie baie ander klimmers wat sou probeer om die kloof in daardie jare aan te pak nie.  Een seun, Ben het in 1935 geskiedenis help skryf, toe hy ‘n ervare bergklimmer met sy 500 voet alpetou oor die duiselingwekkende kranswant neergelaat het om die heel eerste rolprentopnames van Augrabies van watervlak af te maak.  

EGGSA
Northern Cape, Gordonia district, Augrabies Padrooi 13  Nel cemetery


EGGSA
Northern Cape, Gordonia district, Augrabies Padrooi 13  Nel cemetery

EGGSA
Northern Cape, Gordonia district, Augrabies Padrooi 13  Nel cemetery