g.5. Johanna Margrita NEL, geb. 14/02/1838

g.5.  Johanna Margrita. geb. 14/02/1838 x 11/11/1856 met Cornelis Johannes VERMAAK, geb. 12/09/1833, oorl. 12/02/1894, s.v. Cornelis Tobias Vermaak en Dorothea Anna du Preez.

Johanna Margrita was die dogter van Phillip Roedolph Nel en Anna Frederika Claassen.

Toe die opgaafrolle vir 1826 opgeneem is was Cornelis en Dorothea Vermaak in die Wyk Onder Boesmansrivier van Uitenhage.  Die gesin bestaan uit een man, een vrou en twee dogters. Wat werkers betref is daar 4 mans en een vrou.  Daar was ook een slaaf.  Daar was 8 perde, 180 beeste en 140 skape.  Die graanoes was 4 mud koring en 2 mud gort.  Hulle het een erfpagplaas van 2000 morg en een wa gehad.  Die gegewens dui op ʼn gemiddelde gesin wat bates betref.  Cornelis se naam verskyn op die lidmaatregister van die kerk te Uitenhage op 2.10.1818 en die van Dorothea op 3.10.1825. Voordat die Groot Trek plaasgevind het, is drie verkenningskommissies uitgestuur om die gebiede waarheen moontlik getrek kan word te verken,  nl. Damaraland in Namibië, Soutpansberg en Port Natal.  Cornelis was op die Uys-verkenningskommissie wat in 1834 Natal verken het saam met mense soos Piet Uys, Hans Dons de Lange, Gerhardus Jacobus Rudolph en Johannes Stephanus Maritz.  Cornelis het gevolglik kennis gedra van die gehalte van die grond.  Hy trek vanaf die Wyk Onder-Boesmansrivier, Uitenhage, teen die einde van Oktober 1837 in die trekgeselskap van K P Landman.  Cornelis is een van die manskappe wat deelneem aan die Slag van Bloedrivier.  Na die slag het die Kommando na die Zoeloes se hoofstad, Mgungundhlovu getrek, wat intussen deur Dingane ontruim is en aan die brand gesteek is.  Die goedere wat by die stad agtergelaat is, is op ʼn veiling verkoop en die geld is onder die Voortrekkers in Natal verdeel.  Cornelis koop ʼn pik vir Rds 1.0.0 en koper vir Rds 1.6.0 op die vendusie.  Cornelis en Dorothea vestig hulle in Natal.  Met Cornelis dood word vermeld dat hy die plaas Uithoek besit.  Hy het blykbaar ook die plaas Vermaakskraal, Kliprivier, besit, waar hy en Dorothea oorlede is.  Cornelis en Dorothea het in hul huwelik van meer as 28 jaar agt kinders gehad: Sazahra Catharina Vermaak, getroud met Adriaan Izak Moolman;  Dorothea Maria Vermaak, getroud met Dirk Cornelis Uys;  Coenraad Marthinus Vermaak wat as kind oorlede is; Andries Cornelis Vermaak, agtereenvolgens getroud met Catharina Anna Margaretha Claassen en Christina Gertruida van Rooyen; Cornelis Johannes Vermaak, getroud met Johanna Margaretha Nel; Johanna Jacoba Vermaak, getroud met Philippus Rudolf Botha; Johannes Stephanus Vermaak, getroud met Elizabeth Francina Nel; Nicolaas Jacobus Johannes Vermaak, getroud met Martha Maria Susanna Nel. Cornelis is oorlede op 22 Desember 1854 te Vermaakskraal, Kliprivier, Natal. Dorothea bly aan op Vermaakskraal en is daar oorlede op 3 of 4 Februarie 1865.(Die datum is moeilik leesbaar)
(http://www.familiestories.co.za/02%20PDF%20leggers%20vir%20publisering/01%20Roelf%20en%20Sarie%20du%20Preez/10%20Andries%20du%20Preez%20e4.pdf)