i.1. Louis Lourens NEL, geb. 23/04/1907

i.1.  Louis Lourens, geb. 23/04/1907, oorl. 10/06/1995 x 05/12/1934 met Anna Johanna GROBBELAAR van Wepener.

Louis Lourens was die seun van Cornelis Vermaak Nel en Maria Wilhelmina Marais.


Uit hulle ma se sterfkennis van 1954:

FAMILYSEARCH

UNIVERSITEIT

GELEGITIMEER

1932

ORDEN

1935

STANDPLASE

1934 Turffontein (Hpr.)

1935 Heilbron

1957 Alg. Sendingsekr. O.V.S.

1960 Fouriesburg

EMERITEER

Ds. Louis Lourens Nel BA 23.04.1907 10.06.1995

Louis Nel is op 23 April 1907 op Cradock gebore waar sy pa, ds. CV Nel, predikant was. (Albei sy oupas was ook predikante.) Sy skoolopleiding geniet hy op Oudtshoorn waarheen sy vader later beroep is. Hy studeer aan die Kweekskool op Stellenbosch en word aan die einde van 1932 gelegitimeer. Op Stellenbosch speel hy ‘n belangrike rol as onder andere die tesourier van die studenteraad, redakteur van die studenteblad, tesourier van die destydse Nusas en sekretaris van die Afrikaanse Kultuurvereniging.

 Hy is eers hulpprediker in die gemeente Turffontein in Johannesburg en word op 9 Februarie 1935 georden as predikant van die gemeente Heilbron, waar hy 22 jaar lank arbei. ‘n Besondere onderskeiding val hom daarna te beurt toe hy in 1957 deur die Sinode van die Oranje-Vrystaat as Algemene Sendingsekretaris van die Oranje-Vrystaat benoem word. Hy het egter nie lank in hierdie pos gedien nie. Die gemeente Fouriesburg was vakant en was, volgens getuienis van die argivaris, besonder fyn op die sendingarbeid ingestel. Hulle beroep toe vir ds. Nel en hy word op 14 Mei 1960 daar bevestig. Daar arbei hy tien jaar totdat hy op 30 April 1970 (na ‘n bediening van 37 jaar) weens swak gesondheid moes aftree.

Hy is op 5 Desember 1934 met Anna Johanna Grobbelaar van Wepener getroud. Uit die huwelik is vier kinders gebore, naamlik Johanna Christelle, Marie Marais, Taboureux en Cornelis Vermaak.

Daar is vyf kleinkinders.

Na sy emeritaat vestig hulle hulle in Bloemfontein in die woonbuurt vir emeritus-predikante, naamlik Aandrus, Lofdal. Uiteindelik moet hy daar in die siekeboeg opgeneem word, aangesien hy na ‘n beroerteaanval baie verswak het. Sy verstand was egter helder tot op die einde. Hy is op 10 Junie 1995 oorlede na longontsteking.

Hy was ‘n blymoedige en vrolike mens, lief vir mense en vol grappies – ʼn ware ekstrovert, Hy het almal geken. Hy het ‘n mooi stem gehad waardeur sy prediking ook meer gewaardeer is. Hy het ook mooi gesing en self as voorsinger by sinodes en as lid van sy eie gemeentekore opgetree. Naas sy huisbesoek en pastorale werk was evangelisasie en sending vir hom van uiterste belang. Hy het ook ‘n uitgebreide sendingreis na die sendingstasies in Midde-Afrika onderneem. Bybelverspreiding was ook na aan sy hart en toe hulle op Heilbron was, het daardie gemeente die meeste vir Bybelverspreiding bygedra.

Hulle was ‘n mooi huisgesin wat gelukkige herinneringe het aan ‘n besondere pa en oupa wat altyd deur ‘n reeks besondere vriendskappe gedra is. Hy sal onthou word as ‘n optimis wat steeds na ander uitgereik het. – DJ Viljoen, na aanleiding van bronne en gesprek met mev. A Nel. (https://www.gemeentegeskiedenis.co.za/nel-louis-lourens/)

Louis Lourens Nel, 1935 – 1957 leraar van die NG Kerk Heilbron

Ds. Louis Nel, leraar van 1935 tot 1957 en daarna tot 1957 Algemene Sendingsekretaris van diVrystaatse Kerk.

Die NG gemeente Heilbron is 'n gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk op die Vrystaatse dorp Heilbron, waar naas die moedergemeente ook sedert 1929 die NG gemeente Heilbron-Suid bestaan.  Heilbron is, sedert die inlywing van die moedergemeente op Bethlehem by Bethlehem-Wes, die 18de oudste gemeente in die Vrystaatse Sinode van die NG Kerk. Dit is egter die 19de gemeente wat in die Vrystaatse Republiek gestig is.

Heilbron is in Mei 1873 in sy geheel van die gemeente Kroonstad afgestig met 'n sieletal van nagenoeg 3 000.  Ds. H.W. van der Merwe van Kroonstad was die eerste konsulent. Die naam Heilbron staan in verband met die fontein wat destyds baie sterk was ("Bron van Heil").  Eers op 28 Junie 1879 is prop. D.J. Minnaar as predikant bevestig deur ds. G.W.B. van der Lingen van Kroonstad.  Ds. Minnaar het die gemeente 36 jaar lank met die grootste ywer en toewyding bedien. Hy moes weens swak gesondheid aftree en neem op Sondag 26 September 1915 afskeid van die gemeente nadat hy sy emeritaat aanvaar het.  Hy is in latere jare deur die hulppredikers A.J. Troskie, M.W. Odendaal en J. le Roux Hauptfleisch bygestaan.

Op onderwysgebied het ds. Minnaar dit so ver gebring dat ná die Tweede Vryheidsoorlog Heilbron die meeste buiteskole in die Vrystaat gehad het sodat elke kind binne bereik van 'n skool was.  In die gemeente was daar 55 buite-Sondagskole met meer as 800 leerlinge. Deur sy onvermoeide ywer, bygestaan deur sy onvergeetlike eggenote, het 'n jongenskoshuis tot stand gekom en is die vooruitsig van 'n meisieskoshuis geskep, wat enige jare ná sy dood tot stand gekom het; uit dankbare herinnering is laasgenoemde na hulle genoem Helena-Minnaar-Hof.

Die gemeente was wyd uitgestrek en die ledetal het toegeneem, dog elke jaar het ds. Minnaar elke huisgesin met kar en perde besoek. In 1882 is Parys van Heilbron afgestig en in latere jare dele onder Koppies, Edenville, Petrus Steyn (gestig met die naam Concordia) en Oranjeville. Pres. Jan Brand het die hoeksteen van die kerk op 27 November1880 gelê. Die gebou het £12 000 gekos. Die inwydingsrede is gehou tot 'n blye en dankbare skare deur die begaafde en onvergeetlike ds. P. Winter, destyds predikant van Bultfontein, altans Ons Kerk Album van 1917.

In ds. Minaar se 36 jaar lange dienstyd het die lidmate baie toegeneem. In 1879 het hulle 800 lede getel; in 1884 het die getal so toegeneem dat 'n nuwe gemeente op Parys gestig moes word, geheel en al uit Heilbron. In 1908 is 'n groot deel aan die NG gemeente Koppies afgestaan, in 1913 'n stuk aan Edenville en in 1914 nog 'n gedeelte afgesny aan Concordia (later Petrus Steyn genoem). Nogtans het die gemeente steeds sowat 2 200 lidmate getel met tussen 4 en 5 000 siele.

Heilbron se moederkerk, afgeneem c. 1916

Ds. S.J. Perold het die gemeente vanaf 1916 tot 1930 met groot toewyding bearbei (van 1918 tot 1919 was hy leraar van Robertson en ds. A.J.L. Hofmeyr van 1925 tot 1928 as hulpprediker gehad.  Ds. A.H. Stander was die volgende leraar van af 1931 tot 1933. Daarna het ds. Louis L. Nel die herderstaf in 1935 opgeneem en die werk van sy voorgangers met ywer voortsit tot 1957 toe hy aangestel word as algemene sendingsekretaris in die Oranje-Vrystaat.  Ds. W.J.M. Jansön het hom in 1957 opgevolg.
(https://af.wikipedia.org/wiki/NG_gemeente_Heilbron)

eGGSA library Gravestones in South Africa Free State : Vrystaat Free State, BLOEMFONTEIN, Urban area Free State, BLOEMFONTEIN, Memoriam cemetery