g.5. Egbertus Johannes NEL, geb. 04/11/1897

g.5.  Egbertus Johannes (Bertus), geb. 04/11/1897, oorl. 30/07/1954 x Anna Catharina (Anna) KOTZE, geb. 10/02/1899, oorl. 07/11/1979.

Egbertus Johannes was die seun van Abraham Pieter Nel en Hendrina Maria Hendrikse.



In 1914 het Bertus en Ben by hulle ouma op Kakamas gaan woon en het daar skoolgegaan.  Net soos sy broers het Bertus ook op die harde manier grootgeword.

Bertus was ‘n sterk swemmer.  As kinders het hulle soms, teen hulle pa se wense, in die nag uitgesluip om in die rivier te gaan swem.  Volgens Lawrence Green het niemand die Augrabies watervalle in volle vloed voor 1925 gesien, toe Bertus die eerste was om dit wel te sien, nie.  Die valle was gewoonlik bereikbaar vanaf April tot Desember elke jaar.  Daarna moes mens swem en baie goed swem om die systrome oor te gaan.  In Maart 1925 het Bertus besef dat sommige van sy diere afgesny was deur die skielike vloed.  Hy het sy skape gered deur hulle na Klaaseiland te neem.  Die noordelike rand van Klaaseiland was die punt waarvandaan die valle gewoonlik besigtig was en in daardie nag het die vloed sy piek bereik.  Teen daardie tyd was daar ongeveer twee kilometer water tussen hom en die plaas Rooipad en daarom het hy besluit om die nag daar deur te bring.


Bertus het op 28 Januarie 1924 met Anna Catharina Kotze getrou.  Sy het van Kleinbegin af gekom.
  

Ds. A.Z.A. van Jaarsveld skryf in sy boek Groot Oranje as volg:  Bertus was ‘n baasverteller en wandelende bevestiging van die gevleuelde spreuk geinteresseerde persone is interessante persone.  Hoe kleurvol kon hy in heerlike verhaaltrant sy intieme betrokkenheid by 1925 se rekordvloed laat herleef.  “Teen dagbreek toe dit lig word, het hy na ‘n uitkykpunt gestap, waarvandaan hy die Oranje se halfmiljoen kusek kon sien neerstort.  In ‘n kolossale golf het die groot rivier die gapende afgrond ingetuimel, terwyl enorme water massas omhoog geslinger is in die groot waterspleet.  Oor die hele kokende skouspel het ‘n mistige sproeireën uitgesprei.  Die donder en die geheimsinnige was het ‘n indruk geskrep van iets skrikwekkends, iets onwerkliks.  Betowerd vasgenael, het Bertus die groteske, byna grusame toneel aangestaan.”   (gedeeltelik aangehaal).  Deur sy seldsame ervaring oor te vertel het hy bygedra tot een van die merkwaardigste beskrywings van die valle. 

Die Nel broers het dikwels in die ontwikkelingsjare toeriste na die valle geneem om dit te gaan besigtig.  Hulle het ‘n besoekersboek gehad wat steeds in die besit van die park se kantore is.  Dit dateer uit 1936 en die eerste inskrywing is die van ‘n J. Moodie van Springbok.

Bertus en Anna se huis is in die 20ger jare gebou.  Elke Sondag het almal by Bertus se huis vir huisgodsdiens bymekaargekom.  Die teedrinkery van die mans was voor kerktyd.  Halfelf was dit kerkdiens.  Hulle het ook soms kerkdienste oor die radio geluister.  Enige besoekers moes saamluister en die mans moes hulle baadjies aantrek vir die diens.  Die familie het groot respek vir die kerk gehad.  Na die diens is daar of by Piet, Bertus, Izak of Kolie se huis bymekaargekom vir tee.



Saterdae en Sondae namiddae was dit groot kuier by die Nels.  Hulle het teegedrink en gesels.  Vir die geleentheid het die vroue mooi aangtetrek en hulle hare gedoen.

Die Nel broers voor Bertus se huis.  V.l.n.r.:  Bertus, Kolie, Ben, Piet en Izak

Toe Bertus se kinders klein was het hulla aan die Kenhardt gemeente behoort.  Hulle was in die Nouswyk van Kenhardt.  Daar was om die beurt Kenhardt toe en Nous toe gegaan vir nagmaal.  Die Nouswyk het later afgestig.  Met nagmaaltye op Kenhardt, wat dit een groot optog.  Kosmandjies is gepak en daar is ook perderesies gehou.  Daar was vier maal per jaar nagmaal gehou op Nous.  Dan was daar al op Vrydagmiddag vertrek na Nous.  Die Nels het vier of vyf nagmaalkamers op Nous gehad.  Bertus het die buitekamer by Koos Nel se postal, as kerkkamer gebruik.  Hulle het by Gloudine geëet.

Bertus, Pieter, Izak en Piet was van die stigterslede van die SAKK (karakoelbedryf.  Die SAKK het later KLK geraak.

Net soos sy broers het Bertus ook geboer.  Hy was blykbaar ‘n baie sterk man wat in staat was om selfs ‘n os teë te hou.

Bertus voor saam met sy swaer Koos Kotze

Bertus en Pieter saam met vriende in die jagveld

Bertus en Anna in Kaapstad

Bertus het ‘n besondere wye vriendekring gehad.  Hy was lief daarvoor om gereeld Kaap toe te ry en om van sy Joodse vriende te besoek.  Hy het dan gereeld klere en skoene vir sy familie uit die Kaap gebring.  Hy was in die Carlton Hotel in die Kaap, toe hy aan sy hart dood is.



Pieter en Izak het daarheen gegaan met ‘n privaatvliegtuig en is met die motor terug Rooipad toe, waar Bertus in die familiebegraafplaas begrawe is.




EGGSA
Northern Cape, Gordonia district, Augrabies Padrooi 13  Nel cemetery